Knysna feëverhaal vir altyd verby: onder-versekering uitspraak beroof pensionarisse van geruste oudag

Report by: JOHAN VAN TONDER

JOHAN VAN TONDER, voorheen van Templemanweg 38, Knysna Hoogte, vertel die verhaal van hoe sy en gade Heloise se lewens onomkeerbaar verander het sedert 7 Junie

PIONIERSPLEK NOU ASBESGEVAAR: Wat in 1986 die tweede huis in Knysna Hoogte was, lê nou in puin met yslike kostes verbonde aan die skoon- en veiligmaak proses soos voorgeskryf deur Knysna Munisipaliteit

ONS twee ontmoet op 23 Januarie 1968 - ek was 16 en Heloise 14; ek het grootgeword in Oudtshoorn en Heloise in Knysna. Na matriek doen ons onderskeie beroepe regdeur die RSA, ek as polisiebeampte en Heloise ‘n bankamptenaar.
Ons trou in 1973, word na Knysna verplaas in 1983, en besluit om hier te vestig met ons enigste kind, Morné (gebore 1981). Ons sit ons beroepe voort, totdat ek weens mediese ongeskiktheid die SA Polisie verlaat in 1993, en Heloise met pensioen Eerste Nasionale Bank verlaat.
In 1983 koop ons Erf 5243 van Knysna Hoogte ontwikkelaars Ovdeco Properties Bpk. Daar bestaan toe nog geen infrastruktuur nie, en transaksie is vanaf ‘n plan.
In 1986 laat ons ‘n huis bou op die erf. Dit is toe die tweede huis in die woongebied. Ons beleef die ontwikkeling op ‘n daaglikse basis en het ‘n effe skuldgevoel oor die betreding in die natuur - die bosbokke, die apies, die bobbejane, die baie soorte voëls, meerkatte, ystervarke, slange, muise, rotte, skilpaaie, ens.
Die woongebied is rustig sonder enige swaar voertuie, sirenes, of motorfietse. Dit is sonnig - soms té warm, maar nooit koud nie. Die inwoners wissel van jong mense wat huur, ‘n middel-inkomste groep en pensioenarisse, asook persone in professionele groepe (almal blank).
Misdadigheid is iets wat toeneem tesame met ontwikkeling en instroming van persone na Knysna, maar dit affekteer eers later jare die inwoners.
---
Op Woensdag 7 June 2017 in die vroeë oggendure van 4-5vm kyk ons by ons eetkamervenster uit in ‘n oostelike rigting. Ons huis is aan die agterkant van Heuwelkruin en het geen uitsig na die dorp se kant nie.
Die hemelkruin is rooi verlig. Ons skakel die brandweerstasie ‘n paar keer maar dit bly beset. Ons skakel die polisiekantoor - dieselfde. Ons skakel AllSound Sekuriteit en doen navraag: “Is daar ‘n brand êrens?”
Die dame aan diens meld: “Waar brand dit nié? Die pad tussen Knysna en Plettenbergbaai is toe, die pad tussen Knysna en George is toe...”
Ons het nie sig na die weste nie, weens plantegroei en ‘n buur-woning. Ons ruik ook niks en voel veilig en slaap verder. Later skakel ons die radio en televisie aan en hoor dat Knysna basies omring is deur veldbrande.
Die wind waai geweldig en later begin ons rook ruik. Gedurende die middag merk ons dat daar brande in die verte (Karatara/Rheenendal) is - net rook waar jy kyk.
Ons het nie sosiale media nie, slegs radio en TV. Niemand kontak ons nie. Om in te pak en te red wat jy kan en ontruim is glad nie in ons gedagtes nie. Ons dink ons sal nie geraak word nie, behalwe vir die reuk.
Later die middag merk ons dat die brande nader na Knysna vanuit Rheenendal se kant beweeg. Nog steeds naief - ons is veilig - maar tog kry ons tuinslange gereed en vul houers met water. (Daar is waterbeperkinge. Sê nou hulle vang jou met tuinslange gekoppel, wat sê jy? Hier gaan dit nooit brand nie!)
Ons huis is langs die pad-reserwe geleë. Dit is waar die noordelike verbypad gebou gaan word. Dié is ook ‘n ding waaroor vanaf die vroeë 1980s tot in die 1990s gestry is.
---
Dit is laatmiddag en word skemer en die rook erger en die wind waai sterk vanaf die weste. Die vuur is nou al by Welbedacht en op pad na Westford/Eastford toe. Ons glo nog dat dit onder beheer gebring sal word in Soutrivier.
Terwyl ek agter die huis by die bos (padreserwe) tuinslang uitrol, gaan Heloise straat toe vir beter uitsig. Ons woning is baie laer as die pad, Templemanweg, gebou.
Ek hoor ‘n vrouestem, nie Heloise s’n nie, my naam uitroep herhaaldelik. Ek gaan die hoofslaapkamer by die buitedeur binne (met skoene, kortbroek, kortmouhemp - my tuinklere waarin ek nie die huis mag betree nie - daar is ‘n buitestort).
Die wildvreemde vrou skree: “Julle moet ontruim, kry julle dokumente en medikasie!”
Ek gryp die plastiese houer wat die persoonlike dokumente bevat vanuit my hangkas. Ons 15-jarige swart mannetjieskat sonder stert, genaamd Stompie, sit langs my en word met linkerhand geskep en met houer in regterhand vlug ek na die motorhuis om die motor uit te trek.
Heloise geklee in huisklere gryp houers met medikasie, ‘n flits en twee warm bo-stukke vir elkeen van ons. Dit is al waarmee ons dorp toe vlug - soos almal vanuit Knysna Hoogte. Dit is donker van die rook met swak sig, en dit brand jou oë, neus, keel. Vonke val rooi, gloeiend orals.
Die rooi gloed is naby en die huise onder in Templemanweg brand - gasbottels ontplof en asbes bars en dit klink soos oorlog. Alles is ‘n warboel en mensfigure is dofweg sigbaar. Ons drie is veilig, ongedeerd en sukkel deur ‘n Hoofstraat wat toegeparkeer is met vragmotors, ens. Geen voertuie kan in of uit Knysna nie, ons is afgesny.
---
Ons kom tot verhaal by Pick n Pay se onderdak parkeergebied vir bejaardes. Dit is verlig en daar is mense, ons voel veilig, alhoewel Stompie huil. Ek drink ‘n kalmeer-pil - ek was sopas terug in 1974 in die noord-ooste-like deel van Rhodesia (Zimbabwe) by ‘Rushinga in Operation Hurricane’ tydens die bosoorlog:
Eers ‘n mortieraanval op die basis en toe kleingeweervuur vanaf die vyand in die donker van die nag.
Dan die opvolg van terroriste as ‘n patrolliehond hul gewaar en vaskeer by ‘n kliprandjie. Nog ‘n kleingeweergeveg en toe die Trojan vleigtuigie wat brandbomme gooi op die vyand se stelling.
Die klipkoppie slaan op in vlamme - dit vernietig alles. Die lug is vol ‘choppers’ - ses van hulle, met versterkings van Rhodesiese Weermag soldate as ‘stopper groups’. Dit voel of die einde naby is en jy maak gereed om jou Skepper te ontmoet. Baie traumaties en emosioneel, en eers later kom die dankbaarheid vir genade.
---
Ons sit daar in die parkeerarea - waarheen volgende? Ons moet slaapplek kry. Heloise sê die vrou (“n Engel”) het haar naam en telefoonnommer oorhandig en gesê ons moet haar kontak indien ons hulp verlang.
Ons ry Waterfront toe (moet by toilette uitkom); Heloise skakel die dame en die volgende oomblik stop sy langs ons en sê: “Volg my.”
Sy woon in die Waterfront se luukse eenhede. Ons word gevoed en slaapplek gegee - so ook Stompie. Ons kan nie slaap nie.
Ons seun Morne daag op en sê ons huis is vernietig. Hy woon op ‘n plaas naby Simola en moet gaan om sy eie plek te red. Die volgende dag help die wonderlike mense (onbekend aan ons) dat ons klere, kos en huisvesting kry.
Ons bly ‘n tweede aand daar oor - hulle will geen vergoeding aanvaar nie.
Die volgende huisves-ting is in ‘n gastehuis in Ou Plaas Knysna vanaf 9 Junie tot die Oesterfees op die 17de begin - dan moet ons ontruim want hul is vol bespreek.
Ons kry blyplek by ou skoolvriende in Plettenbergbaai en hulle reël na 10 dae ‘n leë vakansiehuis, waar ons tans woon tot begin Desember.
Ons dank die Here dat ons leef. Ons is dankbaar vir een en almal wat ons gehelp het. Ons het briewe aan almal geskryf of gebel. Ons het ontdek daar is nog baie goeie mense op die aarde.
Ons het ‘n psigiater gekonsulteer en hy het ons baie gehelp. Dr Jannie van der Westhuizen van George het spesiaal Knysna toe gery net vir ons.
Ons het soos vele ander met skok verneem: “Julle is onder-verseker.”
Toe moes ons verneem van die buitensporige tariewe wat kontrakteurs vra om persele op te ruim, veral asbes. Knysna Munisipaliteit is telkemale genader vir hulp, maar blyk onwillig of reageer stadig. Ons wil graag deel bly van Knysna en omgewing, maar finansieël lyk alles baie onseker.
Ons aardse besittings pas in twee meduim-grootte tasse en ons leef van dag tot dag op die Here se genade.